Om plat op die aarde te wees het dalk meer voordele as wat jy gedink het
Al hoe meer vroue dra deesdae hoë hakke en vir langer aaneen, maar kenners is bekommerd oor die langtermyn-skade wat dié skoene aan jou voete kan rig. Baie vroue kies om die pyn en ongemak te verduur ter will van hul voorkoms, maar om jou voete in hoë hakke te forseer en dit vir lang tye aaneen te dra, kan ernstige probleme veroorsaak.
Die dra van hoë hakke maak jou Achilles–senings strammer (20%) en verkort ook jou spierweefsel (13%). Dís die bevinding van ’n studie aan die Manchester Metropolitan University in die Verenigde Koninkryk wat ook MRB’s en ultraklank hiervoor gebruik het (die hakke in die studie was minstens 5 cm hoog en is vir sowat 60 uur per week gedra).
Dra hoë hakke slegs vier dae per week, en skop met rukke jou skoene vir vyf minute uit en punt en span jou tone, of staan op ’n trappie op die bal van jou voete en laat jou hakke sak totdat jy jou kuitspier voel trek.