Die grootste oorsaak van voetprobleme is die verkeerde skoene. Maak só seker jy koop én dra die regte skoene
Volgens die Suid-Afrikaanse Podiatrievereniging (PASA) is die grootste oorsaak van voetprobleme die verkeerde skoene. Gelukkig is dit iets wat maklik reggestel kan word.
“Die belangrikste ding om te onthou, is om die regte skoene vir die geleentheid te dra. Stel vas hoeveel jy gaan staan of stap, en ook op watter oppervlakke,” verduidelik PASA se Nelfrie Kemp.
Net soos kinders se voete elke drie maande gemeet behoort te word, behoort volwassenes hul voete elke keer te laat meet wanneer hulle ’n paar skoene aanpas. Verskillende vervaardigers gebruik verskillende groottes en die styl van die skoen kan ook bepaal hoe dit jou gaan pas. Podiaters (voetheelkundiges) waarsku dat dit belangrik is om nie jou voete in skoene in te forseer nie. Skoene behoort jou voet se vorm aan te neem, en nie andersom nie.
Terwyl hoëhakskoene miskien ‘n slegte reputasie het, meen Kemp dat ’n goed ontwerpte hoëhakskoen gemaklik en ondersteunend kan wees. “Die probleem is dat baie hoëhakskoene ongemaklik is omdat hulle van ’n swak gehalte materiaal gemaak word en boonop swak ontwerp is. As gevolg hiervan behoort jy die dra van hoëhakskoene te beperk en jou hakhoogte daagliks te wissel,” stel Kemp voor.
Volgens Kemp behoort skoene gemaklik te voel wanneer jy hulle in die winkel aanpas, m.a.w. dit behoort nie nodig te wees om skoene ‘in te dra’ nie. Sy beveel aan dat mens skoene teen die einde van die dag aanpas, dat albei skoene aangepas moet word, en dat mens in die winkel rondloop met dit aan.
Lees meer oor hoe hoëhakskoene jou voete permanent kan beskadig.
Vir meer inligting oor hoe om jou voete gesond te hou, besoek www.podiatrist.co.za.
Uitgereik namens die Suid-Afrikaanse Podiatrievereniging