Maak ’n verskil in die lewe van talle verstandelik gestremde mense deur ‘effens gebruikte’ boeke, ornamente en enige ander huishoudelike items te skenk
Dylan is erg verstandelik gestrem, so hy sal nooit ’n boek kan lees nie. Maar hy gee nie eintlik om nie. Al waaroor hy omgee, is dat hy dikwels net een ete per dag kry – en dit is die gekookte ete wat hy by die Oasis-dagsentrum ontvang. Hy weet ook dat hy soveel beter voel as hy ’n vol maag het, want dan verdwyn daardie leë, seer gevoel.
Ons het almal goeie boeke wat ons nooit weer gaan lees nie. Deur net een boek aan Oasis te skenk, sal jy ons help om Dylan die voeding en warmte te gee wat hy so broodnodig het.
By die Oasis-dagsentrums gee ons byna ’n honderd kinders per dag kos. Hulle kry nie net voedsame maaltye nie, hulle kry ook ontwikkelingsorg. Hulle verstaan nie dat die Oasis Books & Bric-a-Brac-winkels in Pinelands en Claremont elke maand produkte wat aan hulle geskenk is, verkoop om twee dagsentrums en ses ander Oasis-sentrums te ondersteun nie, maar hulle geniet wel die liefde en warm ete wat hulle daagliks by Oasis kry.
Net soos wat jou boek vir Dylan ’n etekaartjie kan beteken, kan die ou vaas in jou kombuiskas sy buskaartjie wees! Enige huishoudelike items wat mense nie meer wil hê nie kan vir Dylan se sitplek in een van ons spesiaal aangepaste voertuie betaal.
Vir meer inligting, besoek www.oasis.org.za.