Vind uit hoekom dit so belangrik is dat jy ál jou groente eet voordat jy mag nagereg kry
Onthou jy nog hoe jou ma altyd gesê het jy mag nie nagereg kry voordat jy nie al jou groente opgeëet het nie? Wel, sy het dalk iets beetgehad!
Volgens nuwe bewyse kan jy jou risiko om hartsiektes te kry, verminder deur meer groen groente te eet. Die University of Leicester het ’n studie met 220 000 mense gedoen en gevind dat jy jou kanse om tipe 2-diabetes te kry met tot 14% kan verminder deur meer groen blaargroente soos spinasie, broccoli en kool te eet. Die rede waarom groen groente soveel voordele vir jou gesondheid het, is heel moontlik omdat dit so ryk aan anti-oksidante, magnesium en omega-3-vetsure is.
’n Gootskaalse studie in Europa het ook bevestig dat mense wat die grootste verskeidenheid groente eet, die minste geneig is om longkanker te kry, rokers ingesluit (hoewel die beste manier om longkanker te voorkom, steeds is om glad nie te rook nie). Blaargroente bevat min kilojoules en is dus ideaal vir mense wat wil gewig verloor.
Broccoli verminder jou risiko om hartsiektes te kry en bevorder jou imuunstelsel. Dis ’n uitstekende bron van vesel en kalsium.
Blaarslaai is propvol vesel en anti-oksidante. Aangesien dit meestal uit water bestaan, is dit van die beste kos wat jy kan eet om gewig te verloor. Boonop help dit om hartsiektes te voorkom.
Spinasie is ryk an vitamiene A en C en ook in yster. Hierdie vitamiene en minerale help jou brein om optimaal te funksioneer.