Klere wat op ’n strategiese manier verslankend is en só ontwerp is om weg te steek en te kamoefleer, kan jou dadelik skraler laat lyk – sonder enige dieet of oefening
Het jy ’n paar kilo’s gedurende die koue seisoen aangesit? Dis nie nodig om jou figuur met vormlose uitrustings te probeer verdoesel nie. Die regte klere kan help om jou baie maerder te laat lyk deur jou beste bates te aksentueer en enige probleemareas te kamoefleer.
Maak seker dat jy hierdie vyf items in jou klerekas het:
Lei die aandag weg van wat onder die naeltjie aangaan met ’n bloesie met baie detail. Plooitjies, valle of ’n interessante kraag kan ’n raam vir jou gesig vorm en só jou maag kamoefleer. Kies ’n snyersbloesie of steek jou bloes by ’n romp met ’n hoë middeltjie in om ’n uurglas-silhoeët te skep.
’n Uitstekende alternatief vir ’n knooptrui of ’n gewone baadjie is ’n gestruktureerde baadjie. Die sleutel lê in die snit – ’n los baadjie verrig geen wondere vir jou figuur nie, so maak eerder seker dat die snit jou lyf pas … en dit sal jou buustelyn en middeltjie vlei. Hou dit modern deur skouerkussinkies te vermy of bestaandes uit te haal.
Die oorvourok is ‘n móét in die klerekas vir vroue van alle gedaantes. Hierdie rok, wat gewoonlik van ligte, vloeiende materiaal gemaak word, sal enige kurwes versag. Die vasbind-gordel trek dit by die middeltjie in en die los romp vloei weg van jou heupe en magie af. Om die beste uit hierdie reeds vleiende rok te haal, kies een met moue wat jou bo-arms toemaak.
Kies langbroeke wat van swaarder materiaal gemaak is, aangesien dit meer vleiend val en drapeer. ’n Styfpassende denim (“skinny”) kan jou heupe groter laat lyk, so kies liewer ’n langbroek met reguit bene of bene wat effens na onder uitklok. Hoewel ’n hoër middel jou magie wegsteek, kan dit ook jou sitvlak baie groter laat lyk. As die middel weer super-laag is, skep dit onooglike walletjies, so dis beter om ’n langbroek te kies wat tussen dié twee uiterstes is.
’n A-lyn-romp is die vleiendste romp vir enige figuur – dit maak jou bobene toe en skep ’n pragtige silhoeët. Aangesien dit uitklok, balanseer dit ook ’n groter borsmaat uit. Die beste lengte vir rompe is net bokant die knie. Hierdie lengte steek die grootste gedeelte van jou bene (jou bobene) weg en wys net die dunste dele (jou kuite).