Dieetvesel hou baie meer voordele in as om net jou verteringstelsel gesond te hou
Vesel laat kos vinniger deur jou verteringstelsel beweeg terwyl dit giftige afvalmateriaal in die proses verwyder. Daar is twee soorte vesel: Onoplosbare vesel (wat in neute, boontjies en vrugteskille voorkom) help om hardlywigheid te verlig, terwyl oplosbare vesel (wat ons in hawermout, groente en vrugte kry) weer help om jou bloedsuikervlakke te reguleer.
Veselryke kos laat jou langer vol voel en verminder die drang om meer te eet. Vesel help ook om die vrystelling van glukose in die bloedstroom te reguleer, wat keer dat jou bloedsuikervlakke wipplank ry. Hoe meer gelykmatig jou bloedsuikervlakke is, hoe minder is die kans dat jy moeg sal raak en soetgoed benodig om jou energie te gee. Omdat dit bloedsuikervlakke help reguleer, speel vesel ook ’n noodsaaklike rol in die voorkoming van diabetes (suikersiekte).
Hoewel ons liggame albei soorte vesel nodig het vir goeie gesondheid, is oplosbare vesel die een wat help om “slegte” cholesterol (LDL) te verlaag. (Hoewel onoplosbare vesel nie werklik jou cholesterolvlakke beïnvloed nie, speel dit ’n sleutelrol in die handhawing van ’n gesonde kolon.) Die bindmiddels in oplosbare vesel help om die plaak in jou are wat cholesterol veroorsaak te verwyder. Om jou inname van oplosbare vesel te verhoog, eet meer bruin rys, aartappels, ertjies en peulgroente.
Daar is uiteindelik bewys dat ’n veselryke dieet beskerming teen kanker van die ingewande bied. In ’n onlangse studie in die VK is bevind dat mense wat drie porsies volgraankos geëet het – soos volgraanbrood, -ontbytvlokkies, -pap en bruinrys – se kanse 20% kleiner was om kanker van die ingewande te ontwikkel.
Let wel: Die meeste van ons benodig slegs 10g – 15g vesel per dag, maar dieetkundiges beveel 20g – 35g aan. As jy met hoë cholesterol gediagnoseer is, probeer om daagliks 35g – 50g vesel by jou dieet in te sluit. Praat met jou dokter oor veselsupplemente.
Lees ook: Is neute goed vir jou?