Is jy onseker oor hoe gereeld jy nuwe maskara of lipglans moet koop? Raadpleeg gerus ons handige gids met vervaldatums
Ons is dikwels traag om ons ou grimeermiddels weg te gooi, maar ’n goeie skoonmaak is dalk net wat jou grimeertassie nodig het om ontslae te raak van produkte wat hul glans verloor het en bestanddele wat jou gesig irriteer. Grimeermiddels wat verval het, werk eenvoudig nie so goed as toe jy dit nuut gekoop het nie. Oliegebaseerde produkte kan skei, naelpolitoer vorm klonte en lipstiffies verloor hul glans.
Ons Skoonheidsredaktrise, Cathi Trevor, beveel aan dat jy gereeld jou grimeertassie se inhoud vervang, net vir veiligheid en om enigiets van ’n ligte irritasie tot ’n volbloed-infeksie soos ’n karkatjie te vermy. Bakterieë kan dalk in jou maskara se donker, klam buisie wegkruip en elke keer as jy jou vingers in jou gunsteling-roomblosser doop, dra jy kieme daarop oor.
As jy vergeet het hoe lank jy iets al gebruik, luister na daardie stemmetjie in jou kop en as dit snaaks ruik of lyk, gooi dit in die drom!
| PRODUK | GOOI WEG NÁ … |
| Onderlaag | 6/8 maande |
| Poeier/Blosser/Bronspoeier | 18 maande /2 jaar |
| Verbloemer | 1 jaar / 18 maande |
| Roomblosser | 1 jaar / 18 maande |
| Lipstiffie/Balsem/Lipglans | 18 maande /2 jaar |
| Lipomlyner | 1 jaar |
| Oogskadu | 2 jaar |
| Oogomlyner (Potlood) | 2 jaar |
| Oogomlyner (Vloeibaar) | 3 maande |
| Maskara | 3 maande |
| Naelpolitoer | 1 jaar |
| Grimeersponsies | 1 maand |
| Sonskerm | 1 jaar |